Stanley Cierenberg

ek vertel maar net my storie, in eenvoudige taal STAP SAAM DEUR MY LEWE

Roma en Irma se gesprek

Iewers in Brixton sit Roma en Irma in Roma se kombuis, soos elke oggend en tee drink.
Baie eenvoudige kombuis, 4 plastiekstoele om ‘n plastiek tafel, so rooi-pienk met bypassende gordyne.
In die vensterbank staan vier uieknolle in ou jam-bottels en wag om wortel te skiet. Roma se man wag ook nou al jare. (vir wortel skiet). Blykbaar iets fout met menopause, sê die dokter. Maar Roma wag geduldig en gedienstig.
“Roma, het jy gehoor van die man wat langs my bly is mos verloof aan sy niggie?” vra Irma.
“Haai, Irma, is dit dan wettig?”en Roma sluk aan haar tee.
“Ja, hulle sê dat dit nou wettig is. Hulle kan kinders ook kry en die kinders gaan heel normal wees. Maar die verlowing is ‘n groot geheim.” Borduur Irma.
“Die wêreld raak nou heeltemal boos. Wil jy nog tee he?” en Roma beklou die teapot met die gehekelde doilie oor.
“Gooi maar. Roma, jy is nou my beste vriendin. Ek moet met jou praat. Ek is heeltemal te skaam om dokter toe te gaan.”
“Praat Irma, alles wat in hierdie kombuis gepraat word, bly in hierdie kombuis.”en Roma gooi nog ‘n vyf rose sakkie in die geblomde keteltjie. Die keteltjie se oor het warm geword van staan op die stoofplaat en brand vir Roma. Sy gryp haar oor-bel vas en swets.
“Daar is sulke klein blasies om my skaamlippe.” En Irma se kneukels span wit om haar koppie.
“Haai vriendin. Dis mos daardie geslagtelike siekte. Hoekom gaan jy nie dokter toe nie?”
“Soos ek sê Roma, ek is te skaam.”
“Weet jy, Irma, as jy en Bees intiem is, kan dit aansteek na hom toe. Dan versprei daardie storie van sy geslag, deur tot by sy hol. Dan is daar geen salf aan te smeer nie”
Irma hik en vra of Roma nie ‘n sigaret het nie.
˝˝Ek was reeds die ander dag so op my senuwees, want daar het nog ‘n blasie bygekom, toe laat val ek die koffie op Bees uit. Toe vloek hy my. Ek sê toe sommer dis die blasie se skuld en Bees sê dat hy g’n blaasprobleem het nie.”
Rosa wil net begin huil, toe die Boulevard Baarmoeders op die draadloos sing.
“Haai Irma, jammer dat ek jou in die rede val, maar die Bouevard Baarmoeders het mos nou ‘n plaat gemaak. Dis mos daardie drie susters van Colesberg wat op Tros se troue gespeel het. Pure Karootalent daardie.”
“Baie mooi ja. Ek was mos op Tros se troue. Daai druiweprieel het mos verlep toe hardloop die bruid die veld in. Sjaaim, dit was ook ‘n ander storie gewees.” En Irma vergeet van die blasies.
˝Ek het gisteraand die lekkerste bobotie gemaak. Maar die rosyne maak my winderrig. Jy moet maar verskoon as daar ‘n klankie uitglip”sê Roma, want sy voel haar maag maak draaie.
“Dis reg Roma. Hierdie blasies is abnormal. Om te poep is heeltemal normaal.”
Irma maak gereed om te loop en skuif die kombuis stoel agtertoe.
“Pas net op vir die rubbertjie onder die pote. Hulle is almal al gebreek.”
“Moenie worry, ek sal vir Bees stuur om dit reg te maak”
Roma los ‘n windjie. Sagte een maar gevaarlike stank.
˝A, Roma, ek ruik wat jy bedoel met bobotie.”
Die twee vriendinne loer na mekaar, glimlag gister se bobotie Aroma hang in die lug lank nadat Irma by die tuinhekkie uit is.
©stanley cierenberg

No comments yet »

Your comment

HTML-Tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>